'Dams and Development' - the Report of the WCD About the WCD Knowledge Base Press Releases, Newsletters, Media Reports, Events
Home Page
Press Releases  / In the Media /  Newsletters  / Speeches  / Events  / Calendar /  Non-English  
       WCD in the Media
       [Media Items Contents]
Home  
 
   Related:
Archive of
WCD Press Releases
Archive of WCD Media Coverage
 

Uit Londen: Damme se politiek

by Herman Jansen , Beeld, South Africa - 24 November 2000

Uit Londen:
Damme se politiek
Herman Jansen

Londen. - Wat lê agter die bou van groot damme? Watter geraamtes lê onder hul waters? En wat lê voor vir hierdie mensgemaakte hartkleppe waaroor wêreldoorloë in die toekoms kan gaan?

Die eerste keer ooit gee die verslag Damme en Ontwikkeling van die Wêreldkommissie oor Damme (WCD) onder voorsitterskap van Suid-Afrika se mnr. Kader Asmal, antwoorde oor elke denkbare faset. Die bestaan van mens, dier en ekosisteem is vir ewig met die bou van elkeen verander. Daar is tans 45 000 van hulle.

Één waarna die kommissie in diepte gekyk het, was die vergesig van Hendrik Verwoerd. Soos die Engelse digter Shelley se gevalle heerser Ozymandias lê sy ryk aan skerwe. Maar die Verwoerddam (nou die Gariepdam) is sý "voetstuk", monument van sy voorneme om aan die buitewêreld die mag van die apartheidstaat te toon.

Ander politici ook, van kommunis tot demokraat, het die bou van baie groot damme gesien as simbool van mag, sê die finale verslag wat verlede week ná twee jaar se werk luisterryk in Londen bekend gemaak is. Nelson Mandela, in 'n hemp van diepdam-blou, het Asmal en sy elf kommissarisse met hul werk gelukgewens. Aan sy sy was Willem van Oranje, die Nederlandse troonopvolger, 'n groot kampvegter vir die sinvolle bestuur van water.

Die wêreld het saam die afgelope eeu gemiddeld een dam elke dag gekoop, sê Asmal. Maar tot met die werk van die WCD is uiters min, indien enige, omvattende, onafhanklike analises gedoen of hul ontstaan en prestasie die belegging van $2 biljoen (meer as R15 biljoen) werd is.

"Ons mandaat betrek die kosbaarste element op aarde. Dít, uiteraard, betrek mag: wie oefen dit uit; hoe kan dit gedeel word; op watter manier kan die staat dit beter balanseer?"

In hoofstuk 6 gee die kommissie sy siening oor die politiek van groot damme. "As 'n ontwikkelingskeuse, is hulle dikwels die fokuspunt vir die belangstelling van politici, dominante en sentrale regeringinstellings, internasionale finansiers en die damboubedryf."

In een van sy drie gevallestudies oor "politieke besluite" om groot damme te bou, sê die WCD Verwoerd het die bou van 'n groot dam en 'n waterverdeling-skema voorgestaan ná die Sharpeville-slagting in 1960. Die wêreld was senuagtig; kapitaal het uit die land uitgevloei.

'n "Hoof-motivering" van die Verwoerd-regering vir 'n dam in die Oranjerivier, was om die "nasionale vermoë te demonstreer om groot projekte te bou en internasionale vertroue te herstel in die land se ontwikkelings- en beleggingspotensiaal".

Ander politici het dekades lank dieselfde gedoen. Van die Amerikaanse Weste tot die kommunistiese regerings in die Oosblok tydens die Koue Oorlog. "Groot, skouspelagtige damme is dikwels gesien as simbole van ontwikkeling en nasiebou, 'n kragtige demonstrasie dat die mens die natuur kan tem."

Vir die politikus is die aantrekkingskrag dat hy met die bou daarvan "tasbaar" bewys hy kan uithaal en wys, sê die verslag.

Wanneer 'n voorgestelde projek eers voorlopige tegniese en ekonomiese uitvoerbaarheidstudies "deurgekom" het en regeringsteun, buite-finansiering en politieke belang verwerf het, was die bou daarvan gewoonlik 'n voldonge feit. Dié "momentum" kry die oorhand oor verdere waardebepalings, word bevind.

Asmal het by die bekendmaking van die verslag verwys na die kleur-onreg wat met die bou van die Verwoerddam gepleeg is.

Altesame 1 380 mense moes tussen 1963 en die laat 1970's oppak en verhuis, sê die WCD. Dit het bestaan uit die families van 40 wit boere en 180 plaaswerkers. "Die meeste boere meen dat hul vergoeding billik was. Swart plaaswerkers het nie gekwalifiseer vir vergoeding nie" en het na ander plase en na stede verhuis.

Waarnatoe nou? 'n Moratorium plaas op die bou van groot damme soos groepe "eko-krygsmanne" eis? Willem van Oranje het verwys na die onmag om 'n oordeel van goed en kwaad oor damme te maak. Hoe weeg 'n mens goedkoop, besoedelvrye elektrisiteit op teenoor gemeenskappe wat "vernietig" is deur die bou daarvan? Drink- en besproeiingswater en beskerming teen vloede, teenoor eko-sisteme wat dalk onherstelbaar beskadig is?

Die WCD sê teen 2025 sal omtrent 6,5 keer soveel mense as vandag - 'n totaal van 3,5 miljard - in lande lewe waar 'n watertekort is. Vandag word 3 800 kubieke kilometer vars water jaarliks uit mere, riviere en ander watermassas getrek. Dis twee keer soveel as 50 jaar gelede.

Met die finale verslag is die WCD ontbind. Sy verslag doen nie aanbevelings nie, maar gee alternatiewe en riglyne oor besluite oor groot damme in die toekoms. Deur water- en energieprojekte aan die hand van tegniese, omgewings-, ekonomiese, maatskaplike en finansiële maatstawwe te analiseer, kan hul ontwikkelingseffektiwiteit verbeter word.

Ongunstige projekte kan sodoende vroeg laat vaar word, en die opsies wat gekies word, sal dít wees wat die hoofbelanghouers as die beste in die omstandighede mee saamstem.

"Water, deur hierdie verslag, kan ons katalisator wees vir vrede," sê Asmal aan die einde van sy voorwoord.

Home  /  Search  /  Site Map  /  Contact Us  /  Links

Copyright © 1999, 2000 The World Commission on Dams